Voor ek enigiets oor die naweek se rugby sê: ‘n stukkie geskiedenis…
Donkiejare terug, in 1949, het die grootkoppe van All Blacks-rugby ‘n baie snaakse ding aangevang. Hulle het hulle seisoen so beplan dat die magtige All Blacks gelyktydig, op een dag, teen die Assies en die Springbokke sou speel. Daar is ‘n toergroep gekies vir ‘n reeks van vier wedstryde teen Suid-Afrika, sowel as ‘n span wat teen die Aussies sou gaan speel vir die Bledisloe Cup. So besluit, so gedaan…
En toe, op die 3de September 1949, draf die All Blacks se “derde span” teen die Aussies op in Wellington. En soos te wagte kan wees, klap die Aussies die Kiwis daardie dag met 11-6. En die magtige Silwervaring verloor die Bledisloe Cup. En soos die son weswaarts trek, raak dit toe tyd vir die All Blacks om hulle man te staan teen die Bokke, daar in Durban. Tagtig minute later, en die telling is 9-3, in die guns van die Springbokke. Vir die eerste keer in die geskiedenis van All Black-rugby, verloor hulle twee games op een dag. Een Kiwi-kommentator het dit ‘n “extraordinary day of humiliation” genoem. Wie sou nie?!
Terug by die naweek se rugby… Vyf weke terug daag die All Blacks in Frankryk op, na ‘n wonderlike drie jaar van voorbereiding. So wonderlik, dat hulle twee spanne het wat enige dag die res van die rugbywêreld kan aanvat. Let wel - alweer twee spanne. En hulle knoop toe al wat ‘n span is se sterte in die groepswedstryde. Sonder moeite.
En toe breek Saterdag 6 Oktober aan. Die All Blacks is vuurwarm favourites, en goed oppad eindstryd toe. Al wat tussen hulle en ‘n halfeindstryd staan, is die Franse Hane. No problem. Die wedstryd word nogals in Cardiff gespeel. En wat toe hier gebeur, word baie mooi deur Bakkies as volg verduidelik:
“Sien, Gabba, die ding staan so. Die All Blacks, met hulle haka en Maori-agtergrond, is eintlik maar ‘n vreeslike bygelowige spulletjie. Hulle glo verskriklik in spoke. Way back then in 1987, met die eerste Wêreldbeker, was daar nie ‘n Wêreldbeker-verlede wat by hulle kon spook nie. Die wat hulle toe die koppie kon wen. Maar kom ‘91, toe spook die glorie van ‘87 by hulle, en hulle sien hulle ghwarre. In ‘95 was die toernooi in Suid-Afrika, en elke Suid-Afrikaner sal vir jou kan vertel hoe spook ons ou landjie. En elke tweede spook se naam is Suzie. En toe jaag Suzie van Jo’burg die spulletjie mos op hol. En Madiba wen die ou koppie.”
“In ‘99 is daar toe so baie spookstories in omloop, die All Blacks het nooit ‘n kat se kans gestaan nie, en in ‘03 het hulle weer te naby aan hulle eie eilandjie gespeel, so toe spook al hulle voorvaders by hulle, en weereens duik hulle in die bollie. Hierdie jaar het hulle sonder enige spoke opgedaag, maar toe hulle die haka doen, kom spook die Hoenders in hulle gesigte met ‘99 se spoke. Eindresultaat: hulle soek alweer ‘n nuwe coach!”
Aldus Bakkies. Terug by die twee spanne van die All Blacks. Hulle laat dink my eerder aan die ouens daar uit Bakkies se wêreld. Jy weet mos - daai 1-2-3 manne. Een liter brandy, twee liter Coke en drie-liter Ford. Net met ‘n klein verskilletjie. 2-1-0. Twee spanne. Een nasie. Zero World Cup!
En dan was daar die Aussies. Shym. Om te dink hulle bring vir arme Larkham saam vir die semi’s en final, en dan moet hy op die pawiljoen sit en huil omdat sy maatjies hom nie ‘n speelkans gegee het nie. Dit moet nogal bollie wees.
TinkerBelle is die Groene hier in ons span. Baie ge-concern met global warming en sulke goed. Hy is net bekommerd oor die drie eilandspannetjies wat moet terugkruip daar na waar hulle vandaan kom. Hy wou weet of hulle darem almal saam op een vliegtuig sal terugvlieg, om sodoende hulle “carbon footprint” so klein as moontlik te hou. Ek verstaan nie lekker van footprints nie, maar dok Jannie het dit vir my verduidelik. Hy sê as ‘n koei poep stel dit metaangas vry, en dit besoedel die lug. BobTong sê dan moet ons nie bekommerd wees oor die vliegtuig se poep nie, maar eerder oor al die poepe wat die eilanders op die rugbyveld gelos het. Dit was baie meer. Bakkies sê dit het vir hom meer gelyk na bollie as poep. Bakkies weet van die verskil tussen ‘n poep en ‘n bollie. Hy’s ‘n plumber, jy weet.

Feit van die saak: daar was agt, nou’s daar vier. En Bok se kind is nog in die mix! Saterdag wei die Hoenders in die Roostuin, en Sondag is daar ‘n troppie Poemas wat skielik ‘n aptyt ontwikkel het vir Springbokvleis. En na die afgelope naweek gaan ek geen voorspellings waag nie. Paddy Power en die ander bookies het hoeka laat weet dat hulle nie meer van my dienste gebruik sal maak nie. Hulle reken my voorspellings is soos die Hoenders se rugby en die Rose se bier - bollierig.
Ek sal egter een voorspelling waag, en hierop kan julle maar bank. In die finaal gaan ons kattermaai onder die Hoenders of die Rose! Hou maar net dop!
RUGBYRAAI-WENNERS
My admin-mannetjie is uiteindelik weer op sy pos, en hier is die wenners van die laaste twee rugbyraaie:
BOKKE vs YANKS: BOERINBALLINGSKAP (67 - 15) (Anel het naby gekom met haar 65 - 17, maar ons het besluit om dit vir Boer te gee omdat hy een van die tellings raak voorspel het.)
BOKKE vs FIJI: BOENDOE (38 - 21)
Baie geluk, julle twee! Nie te sleg nie! Die admin-mannetjie sal met julle kontak maak! Hierdie naweek is dit ons teen die klomp Argentyne - julle kan laat waai met daai voorspellings!

Groete tot ‘n volgende keer!