WANTED: Verkieslik dood…

Augustus 29, 2007

Om by die huis te lê is ook nie altyd net fun en games nie…

Met die euforie en skokke van ons opwarmingswedstryde nou al amper iets van die verlede, het dit tyd geraak vir my (as die hoogs waarskynlike keuse as kaptein in die finaal) om die laaste stukkies beplanning deur te werk en reg te kry. En dit behels die een video-analise bo-op die ander – tot kotsens toe!

Ek het toe maar begin by die begin. Samoa. Nie ‘n onaardige span nie. Wat rugby betref. Alhoewel hulle donners lelik is. Wat looks betref. Maar die World Cup gaan nie oor looks nie, en ek is in elk geval nie ‘n ou wat swymel oor my opponente se knieë-verjellie-ende uitwerking op die doedies in die pawiljoen nie. Ek is ‘n man wat hou van ‘n girl wat hou van slim mans, nie mooies nie. Solank sy darem beeldskoon is. Anders is ek nie regtig gepla met haar voorkeure nie. Vra maar my pragtige vrou-lief.

Sorry – terug na Samoa. Ek/ons het die spulletjie ontleed, en ek dink BobTong en sy weekspan behoort die knoop deur te haak teen die eiland-spulletjie. Ons sal wen met 28+ punte. One down. Volgende op die lys is die Queen-van-die-Klip se Bleekbene. Hulle is maar so-so. Nie te onaardig nie, en ons sal beslis moet opdaag vir rugby as ons daar suksesvol wil wees. Maar met my aan die voorpunt, dink ek ons sal hulle laat terug verlang na daai dae op Twickenham wat hulle ons gatte so gereeld geskop het. Ten minste 20+ punteverskil. Ek’s nogal lus vir die sogenaamde Champs…

Volgende op die lys: Tonga. Ek en Bakkies het vandag probeer uit-figure wie van hulle en Samoa is nou eintlik die lelikste. Tonga het verloor, maar ook net omdat hulle rugby bietjie kakkerig is. OK, ek is jammer. Baie kakkerig. Ek begin nou bly raak ons gesinne gaan ook in Frankryk wees, want as ons heeltyd in die Bleekbene, Samoa en Tonga se bakkies moet vaskyk, sal ons so nagmerries kry dat ons beslis ons name gaan gat maak teen die magtige VSA. Jip, hulle is laaste op die lys in die poelwedstryde. Teen altwee die spanne voorspel ek 50+ punteverskille. Moontlik al in die eerste helfte.

Dit is toe ons by die kwarteindstryde, halfeindstryde en finaal se moontlike teenstanders begin kom, wat ek ‘n koue rilling teen my rugraat voel afhardloop. Wat de hel het van die All Blacks en die Wallabies geword? Ons het verskrik om die tafel na mekaar gekyk. Enige iemand? Hoekom hoor ons boggerol van daai twee swernoot-spanne?

Almal wat dalk ‘n kans het, ‘n goeie kans het, en onder die wanindruk verkeer dat hulle ‘n kans het, het opwarmingswedstryde gespeel. Argentinië, Italië, Frankryk, Skotland, Wallis, ons, Ierland, die bleekbene, … Ek mis die spul van doer onder, en hulle bure…

Coach het dadelik sy spioene gebel. Hulle selfone is af. Die Nasionale Intelligensiediens. “Huh?” SA Rugby. “You really decided to make the whole team all blacks?” Eddie Jones. “Ahh sorry mate. I’m in Eeengland. Haven’t got a sheep-shagger’s clue in Paris.”

Chaos! Die All Blacks en die Wannabes het verdwyn! Bakkies het sommer opgevlie en die nasionale plumber-riel begin wals. Percy wou weet of hulle ge-qualify het. Duh! Ou Os is nog uitasem na die laaste wedstryd, so hy het net puzzled gelyk en niks gesê nie. Ons het met ons vingers in ons dinges na mekaar gesit en kyk. Niemand het geweet nie!

Vannag sal daar maar moeilik geslaap word in die Springbok-kamp. Nou nie dat ons bekommerd is oor wat die spulletjie in die mou voer nie… GLAD NIE! ‘n Mens hoop maar net hulle is veilig en het nie dalk êrens teenspoed opgetel nie, jy weet. Daar is nogal nice ouens onder hulle. Ek dink nou veral aan die busdrywer van die Wallabies. Kan nogal Afrikaans praat. En die tolk wat altyd saam met die All Blacks hiernatoe kom. ‘n Oulike meisie. Praat ook vlot Afrikaans. En… en… En Eddie Jones – hy’s self nie te bad nie…


Niemand poep laventel nie…

Augustus 27, 2007

Ek is nie ‘n man wat myself bemoei met politiek en sulke dinge nie…

Ek speel my rugby, ek lei my span en ek lig trofees bo my kop uit. Dis dinge waarmee ek goed is. Eintlik blêddie goed is, mind you! As kaptein het ek al twee van die Groot Vier die hemellug ingestoot: die Curriebeker en die Super 14-trofee. Nie sleg vir iemand wat op ‘n stadium vir Griekwas gespeel het nie! En hierdie jaar beplan ek om die William Web Ellis ook bo my kop uit te stoot. Sover vlot my planne.

Die blêddie Nataller het chroniese hêmstring-inflamasie (van al die boudsplinters), die kapteinskap is intussen aan my toevertrou, die Springbokgroep bestaan uit ‘n goeie mengsel van jeug en ervaring, en die span is goed voorberei. Alles dinge wat my planne in plek laat val.

Die laaste ding wat ek nou nodig het is onkundige inmenging. En ek bedoel dit nie lelik nie. Maar ek/ons het regtig nie nodig dat twee Kapenaars nou vir Coach en Smal Gert en Allister kom voorskryf oor wie moet saamgaan WB toe nie. Behalwe die feit dat hulle Kapenaars is (wat hulle in ‘n mate outomaties diskwalifiseer) is die oom en tannie wat nou voorskriftelik wil raak onder andere ‘n politikus (verdere gronde vir outomatiese diskwalifikasie!) en ‘n kerkman (hier’s ek half op dun ys…).

Niks teen julle twee nie, tannie Patricia en oom Njongonkulu, maar ek stel voor die skoenmaker moet hom/haar op hierdie kritieke stadium van my/ons beplanning by sy/haar lees hou. Ons sal konsentreer op die wen van Wêreldbekers, en julle konsentreer op dit waarop politici en kerkmense konsentreer. Deal? Deal! Die Bokgroep het reeds te min Bulle in, ons kan nie die bekerkultuur nog verder verdun nie. Niks teen jou nie, Breytie – ons twee bly gabbas!

Verdere nuus is dat ek uiteindelik ‘n slag by die huis is, en ek en Bakkies het vanaand die behoorlike ding gedoen en ‘n mooi groot Karoo-skaap en twee varkies gebraai, met wors en slaai vir die vrouens. Man, dis lekker om ‘n slag te ontspan. Ou Bakkies moes die braaiwerk doen, want ek het ‘n ligte gewrigsprobleempie na al die rugbyballe, posters, boobs en T-shirts wat ek moes teken na Saterdag se game. Ons Suid-Afrikaners is darem só passievol oor ons sport!  Bakkies sê reken as rugby van volgende jaar af nie meer aftrek kry nie, moet ons vleisbraai en -eet as sport verklaar – hy sal steeds die beste in sy posisie bly!

Ek sien in die koerante die blêddie Nataller loop en deel left, right en center waarskuwings uit oor hoe goed ons gaan wees in Frankryk. Stadig nou, ou dikkes! Die hele land het Sondagaand gesien hoe vervreet jy jouself aan die All Gold! Nou wil jy hier met ‘n ander man se kallers kom ploeg. Nou nie dat jou ge-banksittery ook nog vreeslik bydra tot jou fikse physique nie, né?!

Verdere nuus is dat ons almal ‘n paar dae af het, daarna begin die “Groot Vreet”, en dan saal ons die vliegtuig op vir die trippie om die Wêreldbeker te loop haal. Ou Bakkies se oë glinster sommer as jy begin praat oor die Groot Vreet! Vir die van julle wat nie weet nie: elke borg en sy maat, elke tannie wat sokkies was en en truie stryk, elke ryk oom en skatryk politikus, almal – wil mos vir ons koebaai sê en sterkte toewens. Wat seker ‘n goeie ding is, maar dit gaan gepaard met tafels wat kreun onder die fynste kos. En nie net sommer basaar pies en frikkadelle nie – o nee! Die beste wat jy kan kry!

Die Groot Vreet maak my bietjie bekommerd, maar uit ondervinding weet ek die average rugbyspeler se konstitusie kan nie al die grênd cuisine hanteer nie, so ek verwag ‘n redelike strontspul as daai vliegtuigie eers in die lug is. Gelukkig is ou Bakkies ‘n plumber, so hy sal enige verstoppings aanboord kan uitsorteer. As die outjies bietjie bleek lyk wanneer ons van die vliegtuig afklim daar in Frankryk – hulle is nie bang nie, hulle is moedeloos geskyt!

Nou ja – die volgende paar dae sal ek spandeer aan die opvang van agterstallige takies hier by die huis. Ek kan seker ook maar probeer voor kom met ‘n paar, synde ek so lank gaan weg wees…

Tot later dan – groete!

VICTORIOUS VIC

PS: Die bloggerol kom – WordPress was net gister bietjie olik…

PPS: 4Prometheus, wat betref jou voorspelling van die Skotland-game: ..!.. Hahaha!

PPPS: Wat beteken “erudiete”? Is dit soos Israeliete en Amalakiete?

PPPPS: JOHAN SWARTS!

Nog ‘n PS: Ek worstel nog met die borge, maar ek belowe hier sal pryse wees! Vertel solank julle maatjies. Hoe lyk dit Wimpie? Jy praat mos daagliks met die nasie – bewe daar ‘n borg uit! Ek moes nou eers vir Bakkies verduidelik die Oos-Rand en die Oos-Kaap is twee verskillende dorpe. Hy roep die mense van die Oos-Kaap “viskopvreters”. Sê dis hoekom die wind so baie waai daar – hulle generate dit self! Plumbers het nogal ‘n neus vir ‘n verdagte reukie…

Laaste PS: Sies, Platkop en Boegie het elkeen drie keer gestem! Die sewende stem ruik vir my na 4Prometheus se konkelwerk… Die blog bly!


More se game, bloggers, kompetisie en brandewyn

Augustus 24, 2007

Phew!

Dit was nogal ‘n uitmergelende paar dae, en ek, Bakkies en BobTong vra nederig omverskoning vir ons afwesigheid in die blogosfeer. Ek glo julle sal verstaan: daar’s ‘n oorlog ophande!

Soos almal in die rugbywêreld seker reeds weet, het Coach, Smal Gert, Allister, oom Oregan, prez Thabo, Generaal de la Rey, Steve Hofmeyr, David Kramer, Patricia de Lille, Jan Publiek, en almal wat ‘n sê het, besluit ek is net die man wat die Springbokke se poging om hul trots in ere te herstel, moet lei. Verwys dus voortaan na my as Captain Vic!

Na Dinsdag se orgie is ek vasbeslote om juis dit te doen! Ek het die hele week bestee aan die bestudering van video’s, dik geskrifte oor leierskap, motiveringspraatjies en al daai geleerde dinge. Bakkies het my nogal baie gehelp, want as ‘n plumber verstaan hy die meeste van die goeters.

Aan die einde van alles het ek egter besluit: Te hel daarmee! Al wat ons moet doen, is om Saterdag uit te draf, Nkozi uit volle bors te sing, en die Skotse whiskey-baba(la)s dan met 80 minute se egte Suid-Afrikaanse rugby op te dons! So maklik soos dit! Hulle moet klippe kou en verlang na die dae toe hulle dwangarbeid verrig het in hulle Walliese nefies se steenkoolmyne.

Ek gaan nie veel sê oor ons voorbereiding die laaste paar dae nie (hier’s Skotte wat Afrikaans verstaan), maar een ding is seker: Saterdag gaan nie Dinsdag wees nie – meer iets soos Donderdag!

Ek en Bakkies het besluit om ons bloggerol ‘n bietjie op te dateer, so teen Sondag sal almal wat van heinde en verre hier aankom, kan sien wie se blogs ons die afgelope tyd gelees het. Ek moet sê ek verkies die blogs wat ‘n Bloubul-logo vertoon, maar Bakkies sê ons is ‘n demokrasie, en almal moet gelyke behandeling kry. Plumbers is nie altyd so slim soos wat ek gedink het nie…

Een van my aanhangers, Eben, het voorgestel ons hou ‘n rugbyraai van soorte hier, met sponsors wat vir ons pryse borg vir die persoon wat die naaste aan reg is. BobTong het gesê hy dink dit is ‘n wonderlike idee. Hy is egter gekant daarteen dat ons mouterkarre as pryse weggee. Hy is bang ‘n Kapenaar wen en gly dan van die pad af as die weer sleg is. Hy wil nie ander ouens se kniebeserings op sy gewete hê nie, sê hy. Ek en Bakkies stem saam!

Ek het toe in my hoedanigheid as Springbok-kaptein en verteenwoordiger van die Springboknasie ‘n versoek gerig aan ‘n gewilde ontspanningsdrankie-vervaardiger in Suid-Afrika om gepaste pryse vir ons kompetisie te borg. Ek wag met groot oë om te sien wat hulle terugvoer sal wees. Knoop julle duime – dalk wen julle ougat hampers of Bokse vol van die ontspanningsdrankie! Ek gaan nie nou al sê wie die sponsor is wat ek genader het nie, want netnou het hulle nie ‘n sin vir sports en nasiebou nie, en dan stel ek julle almal teleur. Dan sal ek maar weer verder moet soek. Maar dit belowe ek julle: voor die Wêreldbeker sal ons ‘n sponsor hê, al moet ek self die pryse koop. Ek sal net eers ‘n klein increase op my sakgeld met vroulief moet beding. Dalk moet ek die ouens van SARPA vra om namens my te onderhandel… Vrouens kan moeilik wees…

Intussen moedig ek julle almal aan om more soveel as moontlik van die Springbokke se gunsteling ontspanningsdrankie te geniet, moerse groot braaivleisvure te maak, vragte biltong te eet, en berge vleis te braai. Alles binne perke en verantwoordelik natuurlik! Ons sal julle more rede gee daarvoor! O ja – sal iemand asseblief net die ligte in Natal en die Kaap aansit en vir hulle verduidelik hoe lyk vleisbraai? Dan kan die hele land dit mos saam geniet. En moet nooit weer sê die Springbok-kaptein is nie betrokke by die opheffing van agtergeblewenes nie!

Groete hier vanaf die Queen se Klip!

Captain Vic(torious)!

PS: Die blêddie Nataller is maar redelik suur – hy hou nou glads al altwee hamstrings vas! Bakkies sê hy dink dis ‘n boudsplinter wat ontsteek het en nou infeksie in altwee sy hamstrings pleeg. ‘n Ou wat so baie op die bank sit is geneig om splinterboude en stywe hêmmies te kry, sê Bakkies. Hy behoort te weet, want plumbers is amper soos dokters.

“Sjym” is al wat ek kon sê – ek is te gefokus op more om oor die ex-captain te worry…

PPS: Ek sien op Steve se spoegblok hy het ook al ‘n draai hier gemaak. Wat het julle verwag? Hy’s die derde grootste Bloubul-ondersteuner in die wêreld! Ek dink net dis hoogtyd dat hy nou ‘n oulike liedjie oor my ook sing… Selfs BobTong het al ‘n liedjie! Ek dink tog my kanse vir ‘n liedjie is groter as die blêddie Nataller s’n!

PPPS: As jy dalk ‘n grootkop is by een of ander maatskappy wat vir ons lesers lekker pryse wil borg: my e-mail adres verskyn hier êrens. Bakkies sê hy sal jou persoonlik bedank deur more ‘n Skot of twee op te dons. Ai, plumbers darem…


Jou whiskey kom in ‘n Boks!

Augustus 22, 2007

Dis altyd lekker om van ‘n vliegtuig af te klim, die aankomssaal van die lughawe in te stap en duisende ondersteuners te groet! Dit maak rugby die moeite werd! Regtig! Tot vandag…

Dit is die verwelkoming wat ons gekry het. Ou Bakkies het sommer dekking geslaan net daar in die lughawe! Hy sê hy was bang vir ‘n sielkundige kopskoot! Onsin, sê ek jou! Maar ek sal nie met hom stry oor goeters soos sielkunde en kopskote nie – hy’s’n plumber, hy behoort te weet. Ek het net daarna gegluur en nogal soos ‘n “Boks” gevoel. Donners…

Maar die whiskey-drinkers van Glasgow is lus vir ons, dis ‘n feit soos ‘n bloeiende Springbok-ram. Die blêddie Nataller het maar redelik bleek gelyk toe hy die groot advertensiebord sien, wat my baie goed pas. Die Bokke het Saterdag ‘n man van staal nodig – ek sal voor opdraf!

Die atmosfeer hier in die kamp is maar nog redelik dik, so ek sal nie vanaand te veel sê nie. Een ding kan julle maar weet: ons SAL reg wees Saterdag. Gister was ‘n moewiese glips – belowe! Ons sal regmaak!

Over an’ out!

Captain Vic

PS: Baie dankie aan al ons gereelde blogbesoekers, sowel as almal wat so gereeld kommentaar los. Uit die aard van my werk as internasionale rugbyheld is dit vir my moeilik om een en elkeen te antwoord, maar ek lees alles en die blogkomitee waardeer julle insette en ondersteuning.

PPS: BobTong sê sorry oor gisteraand. Dit was ‘n oeps, sê hy.

PPPS: ‘n Spesiale woordjie van dank aan Platkop – ons grootste vyand het ons grootste vriend geraak. En daai siek fok Boegie. Mwah!


Soos dood in die familie…

Augustus 22, 2007

Psst.  Psssssstttt!!  Ek wil nie te hard praat nie, netnou hoor iemand my.  Sit bietjie nader…

Daar’s hy, dis beter.  Dit gaan maar swartgallig vandag in hierdie Bok-kamp, hoor.  Amper asof iemand dood is.  Soos wat die ouens gisteraand gespeel het, vermoed ek daar is dalk meer as een dood, hulle weier nog net om amptelik om te kap.

Oor gisteraand se wedstryd gaan ek nie veel meer sê nie – enigiemand wat in sy lewe nog net twee wedstryde gesien het (gisteraand s’n ingesluit), sal weet dat gisteraand se poging ‘n voorbeeld was van hoe dit nie gedoen moet word nie.  Maar dit kan ek julle vertel:  die mood was besonder somber in die kleedkamer en by die onthaal.

Arme Bakkies het selfs ‘n traan gestort.  En later by die onthaal het hy lusteloos aan ‘n Pepsi gesuig en net een bord toebies verorber.  Erg vir ‘n ou wat net twee keer opskep as hy nie honger is nie.  Tot dok Henning, ons kopdokter, was gisteraand sprakeloos.  Hy het net heeltyd sy kop geskud asof ‘n paar muggies hom pla.

Coach en Smal Gert het vir die hele wêreld vertel dis nie ‘n train smash nie, maar ek het later by die hotel gehoor hoe troos Smal Gert vir Coach.  Coach het verskriklik gehuil.  Sjym, my hart was sommer seer vir sy part ook.

Die onthaal was ook maar ‘n triestige affêre.  Gewoonlik gee ons vir die opponente ‘n gemonteerde Springbok-kop as hulle gewen het.  Gisteraand het ons dit uit skaamte sommer pasella weggegee.  Teen twaalf-uur was almal in die bed gewees, selfs die youngsters in die span.  Nie eens die alewige groupies het in die outjies belang gestel nie.  Hulle het soos vlieë rondom die manne van Connaght gedraai…  Nie eens Percy het ‘n onwelvoeglike aanbod gekry nie.  Ek wonder of sy lip lank is dáároor, of oor die vertoning van sy spanmaats.

Ons sal seker maar êrens ‘n goeie kopwas kry – en soos gewoonlik sal almal deurloop, nie net die vleuel wat vassteek of die senter wat dwars hardloop of die haker wat skeef ingooi of die haker wat baklei of die flank wat oor sy eie voete val of die losskakel/senter wat soos sy alie pale toe skop of die heelagter wat meer sideshows as Paris Hilton het of die blêddie Nataller wat die verkeerde hamstring vashou of…  Genoeg.

Ek wens net ons kan nou van hierdie klip af wegkom.  Skotland wag.  En ek dink hulle sit en wring heimlik hulle hande in afwagting.  Lanklaas was die Bok so gekwes…  Bakkies reken die outjies van Connaght het ons ‘n pensskoot geskiet, en die Skotte is bobbejane wat ons derms sal wil uitryg.  Hy behoort te weet, synde dat hy ‘n plumber is…


Connacht vs Ons

Augustus 21, 2007

Goeienaand hier van die Sportsgrounds in Galway! Wat ‘n verkakte ou stadiontjie!

2de minuut: Ons kry ‘n strafskop reg voor die pale, en Butch klits die bal oor vir drie punte.

Bismarck speel soos ‘n besetene! Ek hoop die coach en Smal Gert sien dit raak, dan kan ons dalk van ou hinke-pinke ontslae raak…

5de minuut: Ricky jaag tweekeer kak aan!

6de minuut: Guthro hardloop soos ‘n senter! Amper daar, Waylon!

8ste minuut: Butch pass ‘n mooi een vir Connacht, en almal moet scramble… Fok!

13de minuut: Ek wil liewer nie sê wat ek dink van ‘n donnerse vleuel wat vassteek nie…

…. Gaaaaap….

19de minuut: Wonderlik! Bottervingers op die doellyn…

En ‘n strafskop, nadat ons hulle mal geskrum het…

Dit wil my voorkom my honderd Pond het Red Bull gedrink…

OK, in all fairness – hierdie span van ons speel lekker kak! Laerskool Frankfort se O/13B netbalspan is meer opwindend…

Wat ‘n getjommel… Ek gaan ‘n bietjie versterkwater soek…

37ste minuut: Ek’s terug – kon darem ‘n whiskey in die hande kry. BobTong het so pas ‘n goeie pass gedrop… Ai…

Halftyd. Goddank. Telling: ‘n briljante 0 – 3 Briljant omdat ons darem drie het…

* * * * * * * * * *

44ste minuut: Uiteindelik! Willemse druk ‘n ou drietjie, en Butch korrel cock-eye. Telling: 0 – 8

50ste minuut: Bismarck sit hulle skrumskakel se water en ligte af, en wen vir homself ‘n geelkaart.

56ste minuut: Butch korrel pale toe met ‘n strafskop… Ek dink hy het sy tokse verkeerd-om aan! MIS! Alweer!

63ste minuut: Connacht kry ‘n strafskop voor die pale, en hulle kan korrel… Telling 3 – 8

67ste minuut: Jacques Cronjé druk ‘n drie onder die pale en Butch kry uiteindelik weer ‘n bal tussen die mikke deur. Telling 3 – 15

70ste minuut: Ons kry ‘n strafskop en André mik pale toe. Telling 3 – 18

73ste minuut: Nog so bietjie “how’s-your-mother” stuff. Niks wat bloed trek nie…

Eindfluitjie!  What a train smash!  Meer versterkwater…


Victor-tyd

Augustus 21, 2007

Uit-FLIPPEN-eindelik! ‘n Bietjie Victor-tyd…

Game dae is eintlik ‘n bôls-up! Dis foto’s en praatjies en onderhoude en handtekeninge van vroegdag tot laat. En net wanneer jy dink die uitputtende werk is verby, moet jy gaan rugbyspeel! What a waste!

(On)Gelukkig is ek mos nou nie deel van die rugby-sirkus vandag nie, net deel van die Springbok-sirkus. Ek was regtig in die mood om ‘n paar Iere af te knou, en nou moet ek ou omies geselskap hou in die pawiljoen. Nie fair nie! Besef die mense nie ek is ‘n Springbok-kaptein nie!

Die blêddie Nataller kla alweer sy hamstring is seer, maar ek kan sweer hy lieg. Die een dag loop hy kruppel op die een been, die volgende dag houvas hy die ander kant. Iemand sal vir hom moet ‘n prentjie teken of ‘n toutjie aan sy pols vasmaak – hy’s besig om ‘n selfs groter njêrts van homself te maak…

Groot amok gehad laasnag! Bakkies en CJ het besluit om weer ‘n paar middernagtelike versnapperinge te gaan procure by die kombuis, toe CJ (met sy ronde lyfie) oor ‘n vullisdrom struikel en sewehonderd potte en panne agternasleep in sy poging om nie snotboks eerste met die teëls kennis te maak nie.

Hotelsekuriteit was soos ‘n blits op die toneel, en die twee vermeende diewe is met ‘n vrag kos op heterdaad betrap. Coach en Smal Gert is toe nader geroep, en na deeglike beraadslaging is daar besluit die twee koekiediewe moet ALLES wat hulle gesteel het, net daar sit en opeet. (Ek kan net Bakkies se smile picture…!)

Die hele oefening het egter bietjie ge-backfire op die coach en die hotel… Toe Bakkies die derde keer vra of hy nog kan gaan haal, het hulle die straf verdaag. Tot Bakkies se onsteltenis. Hy het brom-brom hier ingestorm en iets gemompel van “as jy iemand wil straf, doen jy dit behoorlik, jy maak nie ‘n jack-ass job daarvan nie…” Ek het eers later agter die kap van die byl gekom, toe ek probeer uitvind hoekom daar niks ham, spek, kaas, piesangs of appels by vanoggens se brêkfis was nie. Ook nie melk en lemoensap nie…

Iemand het vir my hierdie cool prentjie gestuur en gesê al my supporters moet dit in die paal op hulle blogs sit. Ek het laat Bakkies kyk, maar hy sien nie enige pype of pale nie. Nie eens ‘n kraan wat lek of ‘n drein wat verstop is nie. En hy behoort te weet, hy is immers ‘n plumber. As een van julle weet, sit asb vir ons die ligte aan…

Moet sê: nogal ougat, né!

Nou ja, oor ‘n paar minute vertrek die bus stadion toe. Ek het honderd pond gewed dat ons met meer as sestig punte gaan wen, maar met minder as tagtig. Die bookies hier is nogal gaaf. Maar ons vat niks by hulle nie. Ons gee net. Behalwe as ons wen. Dan stuur ons ‘n tas!

Hey, die bus wag! Cheers!

 


Jungle Justice!

Augustus 20, 2007

Gedrop!

Asof Naas my self onder my gat geskop het! Jy’t reg gehoor – nie ek of Bakkies of die blêddie Nataller draf more-aand uit nie. Nee meneer! Ons vergaar splinters in ons boude.

Coach reken dit het te doen met ons dissipline. Bakkies reken ons moet iemand donner. Maar ek moet erken – meer blogtyd vir my!

So let maar op more-aand – my ge-sponsor-de laptoppie sal nooit vêr weg wees nie! Ek oorweeg ‘n minute-to-minute running commentary. Hoe lyk dit? Is julle in die mood vir die oomblik-tot-oomblik indrukke van ‘n regte Bok-kaptein oor ‘n wedstryd se verloop? Nie die bollie wat julle oor TV hoor nie!

Hier’s die span (tensy ‘n poefter of twee netnou seerkry by Captain’s):

1. G. Steenkamp
2. B. du Plessis
3. BJ Botha
4. J. Muller
5. A. vd Berg
6. W. van Heerden
7. TinkerBell
8. BobTong (darem een van die blog-komitee wat dit gemaak het…) (Kaptein) (haha!)
9. R. January
10. KleinGys
11. A. Willemse
12. B. James
13. J. Fourie
14. Odwa Ndungane
15. JP Petersen

WHATEVER! Bakkies reken ons word gerus om die Skotte die naweek te slag. Ek trust sy take on this, hy’s immers ‘n plumber, jy weet.


To blog or not to blog?

Augustus 20, 2007

Hier kom ek nou terug uit die gym uit, vrot van die skindernuus wat ek vir almal wil kom vertel, en dan kry ek dit…

Al die negatiewe kommentaar…

Ai, ons ou volkie het regtig die kuns verleer om te lag. Selfs net te giggel. So baie Afrikaans-sprekendes is so daarop uit om toe te sien dat die son net oor hulself skyn, dat hulle niemand anders ‘n enkele sonstraaltjie gun nie. Vat nou ‘n platkop soos Platkuif. As hy bietjie verder gekyk het as wat sy neus lank is, sou hy die volgende raakgesien het:

Maar nee! Skiet liewers die “siek fok”, nê Boegie! Platkuif, sal jou kuif wapper as jou brein ontplof? Ek wonder…

Nou ja vriende, daarmee groet ek dan die blogosfeer. Bakkies reken ouens soos daai verdien dit dat ouens soos ons ons rugby, ons lewens en ons blogs inpak en oorsee verhuis – hy sal weet, hy’s ‘n plumber. Hy reken ons kan by die Yanks gaan leer – hulle het ‘n Fake Steve, en hulle noem die die skrywer ‘n siek fok nie. Nie as hulle net hulle oë moet oopmaak om te sien dat dit fake is nie.

Anyway… Kom ons keer maar terug na ons vaal bestaantjies, lees maar die blogs wat beskikbaar is (en daar is ‘n klomp blêddie goeie Afrikaanse blogs!), hoop daar kom nooit vernuwing en verandering nie, en bid dat die son tog asseblief nooit meer oor iemand anders as oor ons self skyn nie.

En kom ons hou op lag…

OF

Kom ons stuur ouens soos Pluitkuif en Boegie moer toe, en ons blog dat die biesies bewe! Ek en Bakkies en BobTong het reeds ‘n laaaaang lysie skades en skandes wat ons met die rugbypubliek wil bespreek. Bakkies sê hy ken ‘n ou wat ‘n ou ken wat weet hoe mens ‘n meningsopname op ‘n blog doen, maar die ou werk vir die staatsdiens, so hy rus nou. Ons sal hom eers vanaand in die hande kry om ons te kan help.

As iemand intussen weet hoe ons een van daai gadgets op die blog kan sit waar almal kan stem, laat weet ons. Dan besluit julle self. Bakkies sê ons moet ons lot in ons ondersteuners se hande laat. Ek trust hom, hy’s ‘n plumber, jy weet.

Groete

Victor


Midnight Meetings

Augustus 20, 2007

Daar sit ek en Bakkies en BobTong toe, êrens tussen 01h00 en 03h00 vanoggend, elkeen met ‘n tub Italiaanse roomys wat Bakkies ons uit die kombuis uit procure het.  Ons drie is mos nou amptelik die komitee wat moet besluit watter juicy bits dit tot op die blog sal maak, en watter onder die kleed van omerta verdoesel sal word.

Nou kyk, ek wil nie dinge vir die publiek wegsteek nie, maar ek wil uit die staanspoor hê julle moet verstaan ons is nie ‘n klomp daggarokers en dronkgatte soos die Proteas nie.  Daai ouens kan nie hulle dop vat nie.  En on top of it all rook hulle bykans almal meerkat-twak.

Nie ons nie.  Nou nie dat ons ‘n klomp nerds is nie!  O NEE!  Ons kan vat!  Maar ons vat verantwoordelik.  Na die game.  Nie soos die Proteas voor en gedurende die game nie.  Ons kuier by die onthaal, en nie by die ontvangs nie.

Daarmee sê ek nie ons het nie ‘n paar stoutgatte tussen ons nie.  Dink maar net aan TinkerBell.  En die youngsters soos Sweis en KleinGys en Bismarck.  Selfs ou gesoute manne soos Percy en Gabba.  Stoutgatte!  Charmers!  Jagters!  Watter man wat al ooit op ‘n rugbytoer was het nog nie ‘n bietjie uitgebreek en drooggemaak nie?!  Ons probeer net altyd darem verantwoordelik wees!

BobTong het toe onderneem om weer met die ouens te praat en vir hulle te vertel dat hierdie amper soos boek met rugbystaaltjies gaan wees, met die enigste verskil dat die boek geskryf word soos die staaltjies hulself afspeel, en nie jare daarna nie.  En sou ons moeilikheid kry, ontken ons die staaltjie as ‘n fabrikasie, trek laer en staan rug teen rug.  So maklik soos dit.  Behalwe natuurlik as ons die blêddie Nataller kan brand!

Bakkies het voorgestel ek plaas gereeld ‘n foto van die blêddie Nataller op die blog.  My bek het oopgehang!  “Waarvoor nogal?!”  “Nee,” reken hy, “net om die vlieë weg te hou!”  Nou Bakkies sal weet, hy’s ‘n plumber, so ek trust hom!

johnsmit.jpg