Klein skippies!

September 25, 2007

Waaroor gaan almal tog so tekere?!

‘n Mens sou sweer ons het êrens ‘n Bokkop verloor soos wat die koerante in Suid-Afrika aangaan oor Saterdag se uitstappie teen die ouens van Tonga. Dit was close en alles, maar ons was nooit buite beheer nie, was ons? In elk geval nie gedurende die tweede helfte nie.

Ek moet erken dat die beginspan nie juis gelyk het na ‘n Springboktrop wat later uit die Gouebeker gaan vreet nie, maar julle moet onthou dat twee dinge op die dag teen ons getel het. Eerstens is dit moeilik om die ouens opge-charge te kry vir ‘n wedstryd teen Tonga, en tweedens was dit die sg B-span wat uitgedraf het. Moeilik om dan wonderwerke te verwag. Sorry Bob…

Coach het reeds besluit die A-span sal Sondag die Yanks se sterte gaan knoop, so niemand hoef meer in vrees te lewe nie. Anyway, ons het behoorlik met Samoa en die Bleeksiele afgereken, so niemand kan sê die span voldoen nie aan die verwagtinge nie. Persoonlik dink ek ons is mooi op koers, en Saterdag was net ‘n reminder dat mens enigiets in hierdie toernooi moet verwag.

By the way – het enigiemand opgelet dat die Springbokke die eerste span was wat plek bespreek het in die kwarteindstryde? Ek dink dis ‘n goeie teken. Hieronder het ek vir julle ‘n samevatting van die verloop van sake tot dusver ingesit, met al die uitslae en goodies, sowel as die stand van sake in die onderskeie groepe.

 

 

Die Bleeksiele is in vir die game van hulle misrabele lewens komende Vrydag. Tonga het bloed geruik, en hulle gaan soos ‘n pak honger wolwe wees. Ek weet nie of die liewe Sir hulle uit daai gemors geskop gaan kry nie. Kan jy imagine die kampioene maak nie die volgende rondte nie?! Wat ‘n geween en ‘n gekners van tande – maar ook net op die Queen se Klip! In ons groep is Samoa die groot teleurstelling – iets soos Pamela Anderson in ‘n Voortrekker-rok…

In Groep B sal die verdomde Aussies en die steenkoolmyners gemaklik deurgaan, terwyl die All Blacks en die whisky-makers Groep C sal top. In Groep D is die chaos heerlik om te aanskou. Die volgende belangrike game is die Hane teen die manne van Georgia. Die Hane moet met ‘n lekker groot punteverskil wen, en vier drieë druk vir ‘n bonuspunt, om hulself in die run te hou vir eerste plek in die Groep. Daarna vat die Pumas en die Iere mekaar. Wen die Pumas, eindig hulle bo-aan die groep, en moet die Fransmanne hulle lywe begin vet smeer vir die All Blacks – in Cardiff! Nie iets wat die arme gashere aan gedink het voordat hierdie toernooi begin het nie…

Ek hoop en bid vir ‘n All Black/Frankryk – wedstryd! Wie ookal daar wen, sal die hele World Cup op sy kop keer. CHAOS! En soos Bakkies sê: dis beter om onder die radar te vlieg – veral wanneer die kakka die fên strike! Plumbers weet van kakka, so ek stem saam met hom.

Ander nuus is natuurlik die beweringe rondom KleinSwys se knibbel aan Sefa Vaka. Dalk het die outjie dit letterlik opgeneem toe Coach ons opgestuur het met die opdrag “gaan verskeur hulle”. Tyd sal leer wat die uitkoms van hierdie happie gaan wees, maar met ‘n moontlike straf van ses maande tot drie jaar, klink dit meer na ‘n gewapende roof op ‘n Kentucky, as net ‘n klein proe-slaggie aan ‘n opponent…

Coach het vanoggend gesê hy gaan voortaan persoonlik seker maak almal eet genoeg voor ‘n wedstryd, sodat die honger hulle nie weer oorval gedurende ‘n game nie. Bakkies reken (met ‘n moerse grynslag!) hyself sal dan nooit betyds by die game opdaag nie. Ek het voorgestel ons bedien ‘n vinger-ete gedurende halftyd in die kleedkamers. Bakkies het toe amptelik aansoek gedoen dat halftyd tot twintig minute verleng word… Plumbers darem…

Die rugbyraai vir die wedstryd teen die Yanks is oop! Kliek hier onder! Ek sal net nou die wenner van die vorige raai aankondig – Bakkies sukkel nog met die somme!