Amptelike Bekendstelling

Die hel was los vanaand!

Daar sit ons toe almal saam in die team room…  Nadat ons ‘n paar video’s bestudeer het en een van ons Ierse spioene ons ‘n baie lang, boring briefing kom gee het oor die manne van Connacht, vra Jake toe of enigiemand nog iets op die hart het voordat ons verdaag.  Dis gewoonlik die teken dat ons kan gaan eet, en ek moes vir Bakkies aan sy broekrek vashou om nie by die deur uit eetsaal toe te storm nie!

“Ek het nog ‘n laaste puntjie wat ek wil bespreek” sê ek terwyl ek uit my stoel uit rys en keel skoonmaak.  Die hele groep het nogal respek vir my (al moet ek dit nou self sê…), en gaan sit toe dadelik weer.  Net die Nataller hou aan mik vir die deur.  “Dit raak jou ook”, sê ek terwyl ek hom my evil eye gee en na ‘n stoel beduie.

Toe hy uiteindelik sy vet jack op ‘n stoel kry, breek ek die nuus:  “Ek het ‘n blog begin oor my…  oor ons wedervaringe op toer…”

John se “WAT!” en ou Bakkies se “Sjarrap! Hy praat!” was soos een, maar as Bakkies vir jou beduie jy moet sjarrap, dan sjarrap jy.  John Smit of te not!

Ek verduidelik toe vir die ouens mooi  dat ons nou in ‘n tegnologiese eeu is en dat dit ‘n goeie manier is om ons bewonderaars ingelig te hou van hoe dit met ons gaan, en ook vir hulle ‘n bietjie insider info gee oor dinge wat hulle nie altyd op Keo en in Rapport lees nie.

Die ouens het seker gesien uit my evil eye wat ek ou Vettie gegooi het dat my blog nie onderhandelbaar is nie, en almal het ‘n rukkie lank op en af geknik en my toe met gelukwense toegegooi vir my uitstekende visie en vermoë om die behoeftes van ons ondersteuners te identifiseer en stappe te neem om dit te bevredig.

Maar die blêddie Nataller was nog nie tevrede nie.  “Ek is die amptelike kaptein van hierdie span, en as iemand ‘n blog moet hê, dan is dit ek!”  Ou Bakkies het stadig uit sy stoel opgestaan, die wedgy wat ek hom toegedien het uitgetrek, sy skouers gerol en gesê “Twee vrae…” terwyl hy oor die Nataller getoorn het.

“Een:  waar sit ‘n rekenaar aan?  Twee:  Behalwe Jake hier, wie in Suid-Afrika dink nog jy is ‘n kaptein se gat werd?  As jy vraag een reg antwoord, en drie name gee van mense wat nie familie is nie op vraag twee, kan jy die blog kry.  Anders is dit afgehandel.  Antwoord.”

John het daai gebruiklike shmirk op sy gesig gekry (jy weet – soos wanneer hy sestig minute lank gespeel het en dan van die bench af sit ek kyk hoe sy span wen), rondgekyk in die vertrek en gesê “Ek dink ons moet klaarmaak hier, die kos raak koud…”

Settled.  Bakkies het sy broek (en tackle) verder verstel, omgedraai en vir die res gesê “laat een van julle bliksempies net voor my skep…”  En daarmee, liewe vriende, is my blog se bestaansreg geseël.  Dit is met groot vreugde en eer wat ek vanaand kan verklaar dat my blog amptelik die goedkeuring van die hele Springbokspan wegdra.

Ek was so in my noppies, ek het drie van my steaks op ou Bakkies se bord uitgekrap.  Sy gesig het gestraal!  “Dhankhie Thommha” was al wat hy kon uitkry, kieste bol van die vyfsterkos.  Net een ou eet meer gesond as ou Bakkies, en dis Ollie le Roux.  Al verskil is Bakkies se rugby verbeter, terwyl Ollie se hare olierig raak en sy kondisie verbeter.

Tinkerbell (Danie Rossouw) het later na my toe gekom en gevra hy wil so bietjie met my oor die blog-ding gesels.  Hy’t rondgekyk soos iemand wat drugs verkoop.  Erg senuagtig.  “Ou Vics, die blog-ding…  Dit gaan seker nie ALLES inhê van wat hier op toer gebeur nie, huh?  Jy weet, ons is nie almal getroud nie, en …  maar ons wil nou ook nie soos ‘n klomp rokjagters en moegoes lyk nie, OK?”

Ek kon sien uit die angstige klomp oë wat ons dophou dat hy nie net vir homself praat nie, en dat ‘n klomp ouens hulle flair sou verloor as ek die verkeerde antwoord gee.  “What happens on tour, stays on tour” stel ek hom toe gerus.  “Ons sal ‘n komitee stig wat sal bepaal watter juicy bits die blog haal.  Ek, Bakkies en BobTong sal die komitee wees.  Goed so?”  TinkerBell se oë het sommer weer geskitter, en daarmee weet ek het ek ‘n klomp vrese begrawe.  Nou kan die ouens weer begin fokus!

Die blêddie Nataller het nog nie weer met my gepraat nie, maar vandat ons die Super 14 gewen het praat hy in elk geval net met my wanneer ek die lynstaantekens vir hom skree, so dis nou nie asof daar skielik onmin is nie.  Nie dat dit my veel pla nie – hier’s ‘n vliegtuigvrag vol mense in hierdie groep, en hulle praat almal met my!

Ek gaan nou inkruip, maar ons gesels weer more.  Lekker aand!

johnsmit.jpg

PS:  Bakkies het nou net met ‘n kussingsloop vol kos hier ingekom (weer ‘n early eve raid op die kombuis uitgevoer…), en so al kouende aan ‘n kalkoenboud beduie hy het persoonlik ‘n meningsopname onder die ouens (en die dokter-tannie) gemaak, en hulle is 100% happy met die blog.  Bakkies sal weet van meningsopnames (hy’s ‘n plumber), so ek trust hom.  En hy het die kombuissleutels onder my matras ingedruk, so ons sal weer in twee sessies slaap…

Advertisements

9 Responses to Amptelike Bekendstelling

  1. Jis Victor!

    Man, ek is bly om te sien jy het nou ook ‘n blog. Ek sal beslis drie keer ‘n dag hier kom inloer! Ek is besonder bly om te sien jy en Bakkies het ou John Smit op sy plek gesit – my tone krul!

    Sterkte vir jou en die res van BIG – ek glo julle sal daai goue beker huistoe bring vanjaar! En ek het ‘n boerewed met ‘n klomp ouens aan dat jy die kaptein gaan wees wat die koppie gaan lug. Net om seker te maak die “blêddie Nataller” maak nie die eindstryd nie, e-mail ek vir jou ‘n lys met “99 ways to get John on the next plane back”.

    Groete vir Bakkies, die ander Bulle en die res! BOKKEEEEE!!!!!

  2. Da Mario sê:

    Whahahaha!! 😆
    Brilliant!

  3. Welkom in die bloggosphere! Hier kuier ons ou nagte deur…! Ons sal jou bloggie dophou hoor..!

  4. skoenlapr sê:

    Welkom Victor!

  5. oopkop sê:

    Blogging is verslawend. Erg verslawend.

    Welkom in die Blogosfeer.

  6. Boegie sê:

    Victor, baie dankie vir die blog en die geleentheid om meer te weet van jul doen en late.

    Ek is ‘n Blou Bul ondersteuner vanaf laerskool dae en die dag toe julle die Super14 gewen het was my 2de grootste rugbydag in my lewe. (1st 1995 wereldbeker).

    Ek is 80% seker julle gaan die wereldbeker vir ons terugbring. Was 100% maar toe word Spies mos siek. Se vir Brian Habanna hy is my hero.

  7. Lekker gelag! 🙂

    Hoekom is Danie se bynaam “Tinkerbell” (as jy dit mag antwoord)?

  8. mona sê:

    Oi, jy gaan die manne lelik omkrap! hehe Goed so – stir bietjie.

    M.

  9. kroek sê:

    AI WHAT NEXT?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: