Wie gaan dit wees…?

Oktober 18, 2007

 Ek ken tog iemand wat vir Bakkies regtig ken!  Whê!

Ons het hierdie week al meer geskrum as wat Percy sy kuif reg druk in ‘n hele seisoen!  Magtig!  Dit voel asof ek en Bakkies by die heup gejoin is!  Hy staan al glads op om saam te gaan as ek wil kamer verlaat…

Soos ‘n ou seker kan verwag, het die Bleekbene se pers al hierdie week die trofeekas daar op Twickenham oopgesluit en die laaste vier jaar se stof begin afvee om plek te maak vir die trofee wat oppad is.  Sjym.  Het jy nou al gedink hoe sal ‘n Ingelsman gedonner raak as hy daai bekertjie by Madiba probeer dêps!  As julle dink ons het die Engelse gatte in die Boere-Oorlog geskop, moet julle hierdie fight kom kyk – dit gaan nie mooi wees nie!  En die Engelse Kanaal kan byvoorbaat herdoop word na Bloedrivier!

Ek kry nogal die Argentyne jammer.  Sjym, hulle ou kapteintjie se woorde het my bietjie sleg laat voel Sondagaand.  “Our World Cup is over…”  Kan nie lekker wees nie.  Om met daardie gemoedstemming nog die Hane weer ‘n slag aan te pak, kan ook nie goed wees nie.  En dit gaan ‘n omgekrapte troppie hoenders wees.  Die Pumas het immers gesorg vir die begin van die einde van die gashere se drome.  Anders as al die wêreldoorloë, dink ek nie die Fransmanne gaan hierdie keer weer op hulle dinges kry nie.  Ek voorspel ‘n weghol-oorwinning!

Terug by Saterdag…  Wie gaan dit wees?  Enige voorspellings?  Al wat ek weet, is dat Os en Madiba nogal iets in gemeen het – altwee gaan die Goue Beker TWEE keer in hulle lewens lig!

Laat waai met die rugbyraai!  En bid.  En hou julle duime was.  En asseblief:  moenie Saterdag te veel drink nie – ons is oppad huistoe, en sal ook nog ‘n bietjie sjampanje wil hê!

En BAIE dankie vir julle ondersteuning!

Advertisements

‘n Geskiedenisles en rugbyspoke

Oktober 9, 2007

Voor ek enigiets oor die naweek se rugby sê: ‘n stukkie geskiedenis…

Donkiejare terug, in 1949, het die grootkoppe van All Blacks-rugby ‘n baie snaakse ding aangevang. Hulle het hulle seisoen so beplan dat die magtige All Blacks gelyktydig, op een dag, teen die Assies en die Springbokke sou speel. Daar is ‘n toergroep gekies vir ‘n reeks van vier wedstryde teen Suid-Afrika, sowel as ‘n span wat teen die Aussies sou gaan speel vir die Bledisloe Cup. So besluit, so gedaan…

En toe, op die 3de September 1949, draf die All Blacks se “derde span” teen die Aussies op in Wellington. En soos te wagte kan wees, klap die Aussies die Kiwis daardie dag met 11-6. En die magtige Silwervaring verloor die Bledisloe Cup. En soos die son weswaarts trek, raak dit toe tyd vir die All Blacks om hulle man te staan teen die Bokke, daar in Durban. Tagtig minute later, en die telling is 9-3, in die guns van die Springbokke. Vir die eerste keer in die geskiedenis van All Black-rugby, verloor hulle twee games op een dag. Een Kiwi-kommentator het dit ‘n “extraordinary day of humiliation” genoem. Wie sou nie?!

Terug by die naweek se rugby… Vyf weke terug daag die All Blacks in Frankryk op, na ‘n wonderlike drie jaar van voorbereiding. So wonderlik, dat hulle twee spanne het wat enige dag die res van die rugbywêreld kan aanvat. Let wel – alweer twee spanne. En hulle knoop toe al wat ‘n span is se sterte in die groepswedstryde. Sonder moeite.

En toe breek Saterdag 6 Oktober aan. Die All Blacks is vuurwarm favourites, en goed oppad eindstryd toe. Al wat tussen hulle en ‘n halfeindstryd staan, is die Franse Hane. No problem. Die wedstryd word nogals in Cardiff gespeel. En wat toe hier gebeur, word baie mooi deur Bakkies as volg verduidelik:

“Sien, Gabba, die ding staan so. Die All Blacks, met hulle haka en Maori-agtergrond, is eintlik maar ‘n vreeslike bygelowige spulletjie. Hulle glo verskriklik in spoke. Way back then in 1987, met die eerste Wêreldbeker, was daar nie ‘n Wêreldbeker-verlede wat by hulle kon spook nie. Die wat hulle toe die koppie kon wen. Maar kom ’91, toe spook die glorie van ’87 by hulle, en hulle sien hulle ghwarre. In ’95 was die toernooi in Suid-Afrika, en elke Suid-Afrikaner sal vir jou kan vertel hoe spook ons ou landjie. En elke tweede spook se naam is Suzie. En toe jaag Suzie van Jo’burg die spulletjie mos op hol. En Madiba wen die ou koppie.”
“In ’99 is daar toe so baie spookstories in omloop, die All Blacks het nooit ‘n kat se kans gestaan nie, en in ’03 het hulle weer te naby aan hulle eie eilandjie gespeel, so toe spook al hulle voorvaders by hulle, en weereens duik hulle in die bollie. Hierdie jaar het hulle sonder enige spoke opgedaag, maar toe hulle die haka doen, kom spook die Hoenders in hulle gesigte met ’99 se spoke. Eindresultaat: hulle soek alweer ‘n nuwe coach!”

Aldus Bakkies. Terug by die twee spanne van die All Blacks. Hulle laat dink my eerder aan die ouens daar uit Bakkies se wêreld. Jy weet mos – daai 1-2-3 manne. Een liter brandy, twee liter Coke en drie-liter Ford. Net met ‘n klein verskilletjie. 2-1-0. Twee spanne. Een nasie. Zero World Cup!

En dan was daar die Aussies. Shym. Om te dink hulle bring vir arme Larkham saam vir die semi’s en final, en dan moet hy op die pawiljoen sit en huil omdat sy maatjies hom nie ‘n speelkans gegee het nie. Dit moet nogal bollie wees.

TinkerBelle is die Groene hier in ons span. Baie ge-concern met global warming en sulke goed. Hy is net bekommerd oor die drie eilandspannetjies wat moet terugkruip daar na waar hulle vandaan kom. Hy wou weet of hulle darem almal saam op een vliegtuig sal terugvlieg, om sodoende hulle “carbon footprint” so klein as moontlik te hou. Ek verstaan nie lekker van footprints nie, maar dok Jannie het dit vir my verduidelik. Hy sê as ‘n koei poep stel dit metaangas vry, en dit besoedel die lug. BobTong sê dan moet ons nie bekommerd wees oor die vliegtuig se poep nie, maar eerder oor al die poepe wat die eilanders op die rugbyveld gelos het. Dit was baie meer. Bakkies sê dit het vir hom meer gelyk na bollie as poep. Bakkies weet van die verskil tussen ‘n poep en ‘n bollie. Hy’s ‘n plumber, jy weet.

Feit van die saak: daar was agt, nou’s daar vier. En Bok se kind is nog in die mix! Saterdag wei die Hoenders in die Roostuin, en Sondag is daar ‘n troppie Poemas wat skielik ‘n aptyt ontwikkel het vir Springbokvleis. En na die afgelope naweek gaan ek geen voorspellings waag nie. Paddy Power en die ander bookies het hoeka laat weet dat hulle nie meer van my dienste gebruik sal maak nie. Hulle reken my voorspellings is soos die Hoenders se rugby en die Rose se bier – bollierig.

Ek sal egter een voorspelling waag, en hierop kan julle maar bank. In die finaal gaan ons kattermaai onder die Hoenders of die Rose! Hou maar net dop!

RUGBYRAAI-WENNERS

My admin-mannetjie is uiteindelik weer op sy pos, en hier is die wenners van die laaste twee rugbyraaie:

BOKKE vs YANKS: BOERINBALLINGSKAP (67 – 15) (Anel het naby gekom met haar 65 – 17, maar ons het besluit om dit vir Boer te gee omdat hy een van die tellings raak voorspel het.)

BOKKE vs FIJI: BOENDOE (38 – 21)

Baie geluk, julle twee! Nie te sleg nie! Die admin-mannetjie sal met julle kontak maak! Hierdie naweek is dit ons teen die klomp Argentyne – julle kan laat waai met daai voorspellings!

Groete tot ‘n volgende keer!


Gekielhaal!

Oktober 3, 2007

Wat ‘n naweek!

Skielik is daar 31 Walliesers wat werk soek – enige werk behalwe rugby – want rugby kan hulle duidelik nie speel of afrig nie… Nogal hartseer, nie waar nie. Die arme coach, Gareth Jones, het skaars die kleedkamer gehaal na die wedstryd, toe staan sy kantoorinhoud al op die sypaadjie. Hierdie steenkoolmyners vatikaki! En imagine jy lyk soos hulle kaptein – hoe sou jy gevoel het?

Werkloos en tandloos… Die lewe is maar partymaal ekstra ongeskik met party mense… Ons het self nie die mooiste kaptein nie, maar woord op straat is dat die instaan-kapteine darem so nou en dan ‘n paar knieë lam maak. *wink wink* If you know what I mean!

By die Iere gaan dit seker nie veel beter nie – die enigste ou wat daar seker is van sy werk is die coach, en dit net omdat hy slim genoeg was om sy kontrak te verleng voor hulle op hulle herrie gekry het! Dalk moet die Iere oorweeg om ‘n paar Argentyne in te voer – ten minste wil hulle rugby speel! Volgens my onbeskeie opinie moes die heer O’ Driscoll sy emosies vir homself gehou het toe hy daardie poksie van hom gaan druk het. Sy uittartery het net daai klomp Argentyne bedonnerd gemaak! En die resultaat is verewig op die scoreboard!

Hier in ons kamp gaan dit voor die wind. Die stutte knor ‘n bietjie met seer knieë, maar coach het vir dr Jannie du Plessis laat kom om die spulletjie te kom gesond dokter. ‘n Ekstra voordeel is natuurlik die feit dat hyself nie te onaardig druk op stut nie, en dus sommer sy tokse ook moes saambring. Persoonlik sou ek natuurlik vir Richard Bands laat kom het (Bloubul, jy weet…!), maar my stem tel nie (ek’s net ‘n instaan-kaptein, ‘n sexy een…) Bismarck is baie in sy skik – nou kan hy vir sy ouboet wys die girls is regtig so mooi soos hy in sy briewe huistoe gespog het. Die seuns darem… Ek dink die stutte eet te veel, die dat hulle knieë inkonk. Tot ou Bakkies ly honger – hy het glads al gewig verloor…

MY VOORSPELLINGS VIR DIE KOMENDE NAWEEK

Hier gaan ek bietjie my bek rek! En vir die beste hoop! Eerste wedstryd: Australië teen die Bleekbene. No contest! Die Aussies gaan hulle gatte goed skop! Met ten minste 20 punte.

All Blacks teen die Hane: weet julle hoe het ek gebid vir hierdie situasie! Ek gaan soen sommer ‘n paar Argentyne! Dit gaan ‘n riller wees, want Les Blues sal nooit die skande oorleef as hulle nou reeds uitgeskakel word nie. Feit van die saak: All Blacks met tien punte!

Argentinië teen Skotland: No contest! Alweer! Die Britse spanne is te akkies hierdie jaar om ‘n duik in ‘n marshmallow te maak, wat wou die Poemas opdons! Argentinië met 20 punte!

Bokke teen die Eilanders: NO COMMENT! Maar bly ingeskakel vir volgende week se halfeindstryd: Bokke vs Poemas!

Nou – die rugbyraai! Ek het ‘n paar e-mails van angstige wenners gekry wat wonder wanneer hulle hulle pryse gaan kry. Goeie nuus! Ons borg het aangedui dat die prysgeld Vrydag elektronies in elkeen se bankrekening inbetaal sal word. Julle moet asseblief julle bankbesonderhede vir my e-mail, dan sal ek dit weer vir hulle aanstuur. Die volgende rugbyraaie se pryse sal betaal en gestuur word na afloop van die Wêreldbeker. Happy? Happy!

Ek het nog nie die uitslag van die SA vs VSA rugbyraai gekry nie – die mannetjie doen tot vandag toe nog een of ander valskermkursus. Sal dit pos sodra ek dit het. OK? OK!

Nou ja toe – groete uit ‘n klammerige Frankryk! Ek hoop dit reen lekker daar by julle ook!

O ja! Hier’s die nuwe rugbyraai! SA teen die Island Stylers! Go for gold!

PS: Ek kan nie elke dag blog nie – ek het ‘n World Cup om te wen, verdomp! Maar ek en ou maergat (Bakkies) geniet dit om te sien wat julle als te sê het. So sê ‘n slag iets – moenie net gulsig wees oor die prysgeld nie! Byvoorbeeld: wie’s die sexyste: Ou tamatieboude of Bakkies? en die slimste? Ou tamatieboude of… uhm… of… Sê julle maar!