3 Things I know about rugby…

September 10, 2007

Daar is sekere dinge wat jy net nie doen op die rugbyveld nie…

Kyk, ek is nou al wat mens sal noem ‘n “ou hand” op die rugbyveld. “I’ve been around the block”, soos die bleekbene sê, en daar is drie dinge wat jy nie op die rugbyveld doen nie. Nommer een: jy soek nie skoor met Bakkies Botha nie. Dan is jou bollie geboek. Nommer twee: jy lag nie vir die All Blacks se haka nie, en jy draai nie jou rug daarop nie. Dit is amper erger as om vir Bakkies om te krap. Bakkies sê self hy’s soos ‘n verstopte drein: doodstil, totdat iemand die blokkasie verwyder, dan’s daar pêrre! Nommer drie: Jy draf nie op die veld en “point” jou opponent nie. Nooit nie. NOOIT! Dan soek jy nie bollie nie, jy tender vir kak. En jy gaan dit kry. So seker soos wat die ref ‘n fout gaan maak!

Ou Brian Lima het nou al in vyf Wêreldbeker-toernooie gespeel, so hy behoort te weet. Wat die arme ding besiel het om vir Petoors te “point” gaan my rugbyverstand te bowe. En daarvan het ek baie. Maar dit is seker maar omdat die ou weet hy is nie meer die verskrikking wat hy was toe hy destyds vir klein Hougaard des moers ge-tackle het nie. ‘n Mens moet onthou om jou reputasie in jou toksak te los voor jy opdraf – as jy dit op die veld bring gaan iemand jou liberty en daardie reputasie begrawe!

Ons vriend Lima het toe gisteraand weer droombeelde gesien van die Hougaard-episode, en vir Petoors probeer “lima”. Wat ‘n trein-smash! Die een oomblik sien ek die ou trek skouerhoogte deur die lug, oppad om Springbok te tref soos ‘n goedgemikte kanonskoot. Die volgende oomblik toe moet die Samoane vir hom verduidelik hy’s in Frankryk, en nee, daar’s net vyf vingers aan die hand wat hy sien, nie vyftien nie!

Laat dit nou maar vir jou ‘n les wees, Brian! Têkkel nou maar ‘n paar Rose poertesnêrdus, maar moet in hemelsnaam nie iemand point nie! Next time is die skade dalk permanent!

DIE NAWEEK SE WEDSTRYDE

Net so vinnig my indrukke van die wedstryde wat nou reeds plaasgevind het: Frankryk sal hulle sokkies moet optrek, anders maak hulle dalk nie die kwarteindstryde nie. Argentinië lyk goed, maar sal nie ‘n bedreiging wees vir die SANZAR lande nie. Kanada, die VSA en Namibië skitter soos sterre! Ai – ek sou nog ‘n opskudding soooo geniet het!

Engeland moet seker maak hulle kry genoeg “photo ops” met die trofee voor die eindstryd, want hulle gaan daai koppie nie gou weer sien nie! Die All Blacks en Wallabies het goed gelyk, maar glad nie onoorwinlik nie. En ons… Ons was goed genoeg. ‘n Hele paar foute daar op regtervleuel (nê JP…), maar ons sal werk maak daarvan. Tog jammer van ou Jean wat oppad is huistoe, maar gelukkig join ‘n Bloubul ons, so dit is nie heeltemal ‘n tragedie nie (inteendeel…!). Eerder Wayne as een of ander Nataller of Vrystater…

RUGBYRAAI-KOMPETISIE

Ek het so vinnig deur die scores gegaan (en gesien ekself het damn naby aan die wentelling gekom…), en op hierdie stadium van die wedstryd lyk dit vir my HEIN is die gelukkige wenner van die R500-00 kontant. Nee maar geluk, man! Die uitslae sal bevestig word deur die blogkomitee, Platkop en Wimpie, en dan sal ons in verbinding tree met jou. Nogmaals geluk!

Die nuwe rugbyraai is nou amptelik oop vir Vrydag se wedstryd teen die Bleekbene, so julle kan julle tellings begin pos! Onthou – die wenner wen R500-00 in kontant! Laat waai met daai inskrywings!

Groete

Vic

PS: BOKKEEEEEEEE!!!!!!


Les(s) Bleus…

September 8, 2007

Frankryk 12Argentinië 17 (Hahahahahahahahahaha!)

Mmmm… Hierdie toernooi gaan ‘n bummer raak!

Vir starters dink ek die bookies het gisteraand almal ernstig selfmoord oorweeg. Die volgende ou wat dit gerus kan oorweeg, is meneer Spreadbury. Daarna die aangewese Franse Minister van Sport, en sy dertig henne.

Ja nee kyk… Ou Chabal reken die Franse sal die Bokke eet as hulle teen ons speel, maar op gisteraand se vertoning sal die klomp moet onthou om nie sonder hulle valstande op te daag nie. Die Franse het soos ‘n ouetehuis vol papbekke gelyk, en die Argentyne was 5 duim dik overdone steak…

Ek dink nie enige tuisskare by die opening van ‘n Wêreldbeker het al ooit sy tuisspan die bird gegee soos wat die Franse oorgekom het nie, maar dan weer: geen tuisspan het al ooit sy openingswedstryd verloor nie. En kom ons face dit: die Franse was pateties. Te veel wyn, te veel salami. En Heymans in die laaste vesting… ‘n Wenverloorresep. Of is dit ‘n verloorwenresep?

En die ref was nog erger… Ek het lanklaas so patetiese ref gesien! Hierdie arme bleekbeen was totally out of his league! En dit het die grensregters ook verwar, want hulle het toe ook maar later die partytjie ge-join en gekyk hoeveel dinge hulle kan miskyk. Wat ‘n orgie. Hopelik sal die IRB nou wakker skrik en begin kyk na die standaard van skeidsregters. As hulle dit nie doen nie, sal hierdie toernooi ontaard in ‘n gekkespel, en dink net waarmee gaan Richie en sy maatjie Collins alles mee wegkom! Swar(t)igheid, ek sê jou…

Nou ja, Parrghee was gisteraand so stil soos ‘n bordeel na ‘n polisie raid, en vanoggend se koerante is propvol advertensies van kaartjies vir die finaal. Nogal teen ‘n afslagprys! Almal het skielik onthou dat hulle iets anders daardie dag aan die gang het. Sjym. Ons Suid-Afrikaners weet hoe dit voel. Ons het ook al ‘n Wêreldbeker gehad. Ons het die Protea krieketspan…

Moenie vergeet om deel te neem aan ons rugbyraai nie – daar is moewiese pryse op die spel!


En toe word ons dors…

September 7, 2007

Ek onthou nog die goeie ou dae toe Castle ons span se hoofborg was…

Maak nie saak waar in die wêreld ons gaan speel het nie – as daai vliegtuig opstyg, kan jy maar seker wees daar’s ‘n groot Ventertjie vol bier aan sy alie gehaak! Genoeg bier vir almal, vir so lank as wat die toer duur…

Ek het nog nie aan Sasol se produk probeer glug-glug nie, maar Bakkies reken dit kan ‘n man se plumbing redelik ernstig opdons. Nou kyk – as Bakkies eers plumbing-dinge kwytraak, dan luister jy! Die man weet waarvan hy praat. Jy kan glo daarvan hoog raak, maar dan moet jy dit snuif. Daar’s ‘n outjie met die naam Snotkop in Suid-Afrika. Hy verwys ook partymaal na homself as Petrolkop. Dit laat my wonder hoe meng petrol en snot…

Ashwil sê as ek die resultaat van so gesnuif-snuif wil sien, sal hy my ‘n paar daar op die Kaapse Vlaktes gaan wys. Ek het dit vriendelik van die hand gewys. Al waarvan ek like in die Kaap, is hulle leë trofeekas. Daai ouens drink nie eens bier nie. Hulle braai vis. JIG!

Dis twee dinge wat hier nie in Parrghee is nie – bier en braaivleis. Meer spesifiek hout vir braaivleis. Ek en Bakkies het gister so vinnige recce gedoen, en kon niks kry nie. Nie bier nie, en nie hout nie. Niks. Bakkies loop en knor-brom soos ‘n honger Siberiese wolf. KleinSchalk reken die wyn is selfs beter as sy pa s’n, maar dit krap Bakkies net meer om. En sy maag. Erg. Ek is sy roomie, ek weet.

In Ierland is die bier swart, en dit proe soos teer. In Engeland is die bier warm, en dit proe soos warm teer. Hier is niks bier nie, en dit begin ‘n teer sakie raak. Party ouens dreig met ‘n staking. Dinge kan hand-uit ruk. Die ouens wil nie wyn drink nie, en met reg ook, want hulle is bang hulle speel dan later rugby soos die Fransmanne. Tjollerig. Net erger.

Oupa Os en Guthro het ‘n slaghuis raakgeloop. Dis soos een van daai in 7de Laan. ‘n Deli. Hulle blink tot agter hulle ore van die salami-vet. Bakkies sê hy hoop nie een van hulle doen ‘n hoeserigheid op nie, want hulle sal nie kan nie. Hoes nie. Iets te doen met kompressie. Hy vermoed dit sal ‘n strontspul afgee, en altwee daai ouens is stutte. En ons is slotte. En ons koppe is meeste van die tyd by hulle exhôsse…

Vanaand is die groot aand! Frankryk teen die Argentyne. Daai lelike Argentyne kan vir jou skrum dat jy knor, hoor! Ek hoop die Fransmanne het so bietjie terug gehou op die salami…

Monty en Butch was gister laat vir ons middag-oefening. Hulle het ‘n salon raakgeloop waar die Franse tannies allerhande kure verkoop. Pedikure, manikure, en sulke goed. Tot facials. By die verhoor (ja! as jy stout is op toer word jy verhoor!) het Percy gesê hy moes vir Butch wag, so hy is onskuldig. Butch se make-over was glo aansienlik langer as wat hulle aanvanklik gedink het dit sal wees. Op die ou einde was hy nog steeds lelik, en het die tannies met die kure hulle twee se geld terug gegee. Met ‘n adres vir ‘n ander salon. Behalwe dat ou Butch nog steeds lelik is, is hy nou suur ook. Bakkies sê sy vrou sny sommer sy hare, sonder enige kure…

Gisteraand het ons bietjie vrye tyd gehad. Ek en Bakkies en BobTong het ‘n Spur gaan soek, maar later honger teruggekeer hotel toe. Die blêddie Nataller en sy crew het later met groot glimlaggies hier opgedaag. Daar het nog tamatiesous aan sy wang gesit, maar ek weet nie wat het hulle te ete gekry nie. Dit sal my nie verbaas as dit parra-boudjies en sulke uitheemse goed was nie. Kusmense eet enige ding. Dit moet die sout wees wat hulle breine korrodeer, sê Bakkies. Ek weet net sout laat jou 4×4 se onderstel roes; niks van korrodeer af nie…

Ons het nog steeds nie ‘n koue bier gehad nie… Ook nie braaivleis nie. Ek wonder wat bedien hulle in die kleedkamer nadat jy gewen het? En Sondag lê nog baie, baie, baie, vêêêêêrrrrr….

Groete

Vic

PS: Julle het seker opgelet ou Splinterboude is die kaptein Sondag… Moenie julle wen-tellings te hoog voorspel nie…


Fakes en Feite

September 6, 2007

Kyk, een ding is nou maar wors: daar is ‘n helse klomp fakes daar buite!

/\/””””””””””\/\ Jo-Ann stuur toe mos vir my ‘n e-mail met ‘n rubriek wat die mense claim Bakkies geskryf het. Ek het myself sommer onmiddellik vervies. Vir Bakkies.

“Gabba, ek dag ons het ‘n deal dat al ons comments oor die Wêreldbeker op ONS blog geplaas sal word. Hoekom het jy nou weer soos ‘n oorlamse kaller uitgebreek en oor die draad gespring?” Bakkies het een van daai uitdrukkings gekry wat hy altyd kry as hy op die privaat sit en klein All Blackies paseer. Jy weet, so stroewe, veraf blik… Soos ‘n hond wat skyt, maar moeite ondervind…

“Sorry, tjomma, kom weer,” antwoord hy, “ek is nie nou lekker op dieselfde golflengte nie.” Ek het die artikel onder sy neus gedruk (en dit in die proses vol broodkrummels, Marmite en kaas gemors) en gewag vir ‘n verduideliking. Bakkies het vrot van die irritasie daarna gekyk, sy neus met ‘n snork opgetrek, en die mooiste Bakkies-glimlag gegee wat ek nog ooit gesien het. “Tjomma, jy kan mos sien dis ‘n fake die! Waar in jou lewe het jy my al ooit sulke hogere Ingels hoor praat, wat nog van skryf! Ha! En Frans ook nog!” Hy het sy kop laggend geskud, en nog ‘n hotdog-erige ding in sy mond ingedruk.

Ek het vinnig weer daarna geloer, en besef dis nie ‘n plumber se werk dié nie… Nie eens ‘n Springbok-plumber nie! Dis ‘n imposter! ‘n Fake!! Daarom wil ek vandag ‘n dringende waarskuwing aan julle almal rig. Wees op die uitkyk, en wees paraat: iemand is besig om vir Bakkies te na-aap. Volgende kan dalk ek wees. Ek dink darem nie iemand sal vir ou splinterboude-ek’s-nou-weer-kamstig-fiks-en-reg blêddie Nataller na-aap nie, so julle kan alles glo wat in sy naam gepubliseer word. Maar moenie soos Bakkies maak, en al die soetkoek opeet nie. O ja, ek plaas die gewraakte artikel hieronder, dan kan jy dit ook lees.

* * * * * * * * *

Een ding wat nie fake is nie, is ons RUGBYRAAI! Ons het great nuus vir julle! Daar wag ‘n moewiese prys! Ons behoort vanaand die detail af te handel, so kom loer more in om te sien wat jy kan wen in ons rugbyraai. Intussen moet jy laat waai met jou voorspellings. Onthou – jy kan soveel keer deelneem as wat jy wil, maar jy moet net sorg dat jy elke keer ‘n unieke telling voorspel. Go for gold!

Kliek net HIER en pos dan telling-voorspelling (hi oe… dit rym…) en ‘n geldige e-mail, en jy is ingeskryf.  Jy mag soveel keer inskryf as wat jy wil!  Verseker net jou telling is uniek…

Read the rest of this entry »


Soos daai Arno-outjie sê… The time is now!

September 5, 2007

Parrrrhee. Dit is Frans vir Parys. Die Engelse sê sommer Pêrris. Soos daai klein Hilton-slet. Net groter en leliker. Maar die mense hier bestuur net so sleg, en drink selfs meer. Dis waar ons onsself bevind. In romantiese Parrrhee. Maar ons is nie hier vir vry nie, ons is hier vir rugby. World Cup nogal!

Ja! Na ‘n lekker bedrywige week by die huis, is dit uiteindelik tyd vir die Ware Jacob. Dit waarvoor elke rugbyspeler lewe. Die Wêreldbeker! Man, maar ons is opgewonde. KleinGys en KleinSwys giggel onophoudelik. Ek probeer uitmaak of dit van opgewondenheid vir rugby is, of omdat nie een van die girls wat ons raakloop geld het vir ‘n bra nie. Sjym. En met die koue hier is dit nogal ‘n gesig…

Voordat ek enigsins verder gaan: GROOT NUUS!

 

 

KOMPETISIE-TYD!!!

 

Ons rugbyraai-kompetisie is amptelik aan die gang! Tot dusver het ons R6000-00 in kontant, twee televisiestelle en ‘n getekende Bloubul-rugbytrui om weg te gee! Ennnn…. die kans is baie goed dat die pryse nog meer sal raak binne die volgende paar dae!

Baie dankie vir Wimpie en Platkop vir hulle bydraes – julle ouens is GREAT! Wimpie (van Oos-Rand Stereo) het ‘n verdere gratis advertensiepakket ter waarde van duisende rande aangebied vir enige borg wat bereid is om vir ons ‘n paar groot pryse te borg. Dus, as jy vir ‘n company werk wat mal is oor rugby, nog ‘n paar RRR’e los het in die sponsorship budget, en op die koop toe gratis lugtyd wil verdien, kontak vir my of Wimpie! Vandag nog!

Vir starters gaan daar R500-00 wees vir die persoon wat die Springbokke se telling in elkeen van hul vier groepswedstryde reg voorspel. R500-00!!! Per wedstryd!!! Dink net hoeveel bier jy daarmee kan koop en op-stock vir die finaal! R500-00!!! Bakkies sê dis meer as wat ‘n goeie plumber in ‘n half-uur verdien. En in ‘n half-uur kan uitdrink. Maar net-net. Hy sal weet…

Al wat jy hoef te doen, is om jou voorspelling as ‘n comment te los, met ‘n geldige e-mail adres daarby, en siedaar! Jy is ingeskryf! Geen inskrywings per e-mail sal aanvaar word nie, want die proses moet so fair en deursigtig as moontlik wees. Die blogkomitee, Wimpie en Platkop (as dit orraait is met jou…) sal optree as die judges, en ons woord is wet. Geen korrespondensie en blah blah blah nie.

O ja: jy kan soveel keer deelneem as wat jy wil. En die kompetisie is van hierdie oomblik af oop en aan die gang! Vertel jou maatjies, vertel jou meisie, vertel jou skelm! Sit ‘n link op jou blog. Vertel die wêreld! Wanneer die uitspeelwedstryde begin, sal die pryse groter en lekkerder raak – ons werk hard daaraan! Nou toe, wat wag jy nog? Wat gaan die uitslag teen Samoa wees?!

PS: Elke wedstryd se kompetisie sluit 5 minute voor die afskop. Suid-Afrikaanse tyd. My TAG werk nie hier in Frankryk nie. En elke keer wat ek huistoe bel, is dit asof ek in die toekoms in praat. Scary…

 

 


WANTED: Verkieslik dood…

Augustus 29, 2007

Om by die huis te lê is ook nie altyd net fun en games nie…

Met die euforie en skokke van ons opwarmingswedstryde nou al amper iets van die verlede, het dit tyd geraak vir my (as die hoogs waarskynlike keuse as kaptein in die finaal) om die laaste stukkies beplanning deur te werk en reg te kry. En dit behels die een video-analise bo-op die ander – tot kotsens toe!

Ek het toe maar begin by die begin. Samoa. Nie ‘n onaardige span nie. Wat rugby betref. Alhoewel hulle donners lelik is. Wat looks betref. Maar die World Cup gaan nie oor looks nie, en ek is in elk geval nie ‘n ou wat swymel oor my opponente se knieë-verjellie-ende uitwerking op die doedies in die pawiljoen nie. Ek is ‘n man wat hou van ‘n girl wat hou van slim mans, nie mooies nie. Solank sy darem beeldskoon is. Anders is ek nie regtig gepla met haar voorkeure nie. Vra maar my pragtige vrou-lief.

Sorry – terug na Samoa. Ek/ons het die spulletjie ontleed, en ek dink BobTong en sy weekspan behoort die knoop deur te haak teen die eiland-spulletjie. Ons sal wen met 28+ punte. One down. Volgende op die lys is die Queen-van-die-Klip se Bleekbene. Hulle is maar so-so. Nie te onaardig nie, en ons sal beslis moet opdaag vir rugby as ons daar suksesvol wil wees. Maar met my aan die voorpunt, dink ek ons sal hulle laat terug verlang na daai dae op Twickenham wat hulle ons gatte so gereeld geskop het. Ten minste 20+ punteverskil. Ek’s nogal lus vir die sogenaamde Champs…

Volgende op die lys: Tonga. Ek en Bakkies het vandag probeer uit-figure wie van hulle en Samoa is nou eintlik die lelikste. Tonga het verloor, maar ook net omdat hulle rugby bietjie kakkerig is. OK, ek is jammer. Baie kakkerig. Ek begin nou bly raak ons gesinne gaan ook in Frankryk wees, want as ons heeltyd in die Bleekbene, Samoa en Tonga se bakkies moet vaskyk, sal ons so nagmerries kry dat ons beslis ons name gaan gat maak teen die magtige VSA. Jip, hulle is laaste op die lys in die poelwedstryde. Teen altwee die spanne voorspel ek 50+ punteverskille. Moontlik al in die eerste helfte.

Dit is toe ons by die kwarteindstryde, halfeindstryde en finaal se moontlike teenstanders begin kom, wat ek ‘n koue rilling teen my rugraat voel afhardloop. Wat de hel het van die All Blacks en die Wallabies geword? Ons het verskrik om die tafel na mekaar gekyk. Enige iemand? Hoekom hoor ons boggerol van daai twee swernoot-spanne?

Almal wat dalk ‘n kans het, ‘n goeie kans het, en onder die wanindruk verkeer dat hulle ‘n kans het, het opwarmingswedstryde gespeel. Argentinië, Italië, Frankryk, Skotland, Wallis, ons, Ierland, die bleekbene, … Ek mis die spul van doer onder, en hulle bure…

Coach het dadelik sy spioene gebel. Hulle selfone is af. Die Nasionale Intelligensiediens. “Huh?” SA Rugby. “You really decided to make the whole team all blacks?” Eddie Jones. “Ahh sorry mate. I’m in Eeengland. Haven’t got a sheep-shagger’s clue in Paris.”

Chaos! Die All Blacks en die Wannabes het verdwyn! Bakkies het sommer opgevlie en die nasionale plumber-riel begin wals. Percy wou weet of hulle ge-qualify het. Duh! Ou Os is nog uitasem na die laaste wedstryd, so hy het net puzzled gelyk en niks gesê nie. Ons het met ons vingers in ons dinges na mekaar gesit en kyk. Niemand het geweet nie!

Vannag sal daar maar moeilik geslaap word in die Springbok-kamp. Nou nie dat ons bekommerd is oor wat die spulletjie in die mou voer nie… GLAD NIE! ‘n Mens hoop maar net hulle is veilig en het nie dalk êrens teenspoed opgetel nie, jy weet. Daar is nogal nice ouens onder hulle. Ek dink nou veral aan die busdrywer van die Wallabies. Kan nogal Afrikaans praat. En die tolk wat altyd saam met die All Blacks hiernatoe kom. ‘n Oulike meisie. Praat ook vlot Afrikaans. En… en… En Eddie Jones – hy’s self nie te bad nie…


Niemand poep laventel nie…

Augustus 27, 2007

Ek is nie ‘n man wat myself bemoei met politiek en sulke dinge nie…

Ek speel my rugby, ek lei my span en ek lig trofees bo my kop uit. Dis dinge waarmee ek goed is. Eintlik blêddie goed is, mind you! As kaptein het ek al twee van die Groot Vier die hemellug ingestoot: die Curriebeker en die Super 14-trofee. Nie sleg vir iemand wat op ‘n stadium vir Griekwas gespeel het nie! En hierdie jaar beplan ek om die William Web Ellis ook bo my kop uit te stoot. Sover vlot my planne.

Die blêddie Nataller het chroniese hêmstring-inflamasie (van al die boudsplinters), die kapteinskap is intussen aan my toevertrou, die Springbokgroep bestaan uit ‘n goeie mengsel van jeug en ervaring, en die span is goed voorberei. Alles dinge wat my planne in plek laat val.

Die laaste ding wat ek nou nodig het is onkundige inmenging. En ek bedoel dit nie lelik nie. Maar ek/ons het regtig nie nodig dat twee Kapenaars nou vir Coach en Smal Gert en Allister kom voorskryf oor wie moet saamgaan WB toe nie. Behalwe die feit dat hulle Kapenaars is (wat hulle in ‘n mate outomaties diskwalifiseer) is die oom en tannie wat nou voorskriftelik wil raak onder andere ‘n politikus (verdere gronde vir outomatiese diskwalifikasie!) en ‘n kerkman (hier’s ek half op dun ys…).

Niks teen julle twee nie, tannie Patricia en oom Njongonkulu, maar ek stel voor die skoenmaker moet hom/haar op hierdie kritieke stadium van my/ons beplanning by sy/haar lees hou. Ons sal konsentreer op die wen van Wêreldbekers, en julle konsentreer op dit waarop politici en kerkmense konsentreer. Deal? Deal! Die Bokgroep het reeds te min Bulle in, ons kan nie die bekerkultuur nog verder verdun nie. Niks teen jou nie, Breytie – ons twee bly gabbas!

Verdere nuus is dat ek uiteindelik ‘n slag by die huis is, en ek en Bakkies het vanaand die behoorlike ding gedoen en ‘n mooi groot Karoo-skaap en twee varkies gebraai, met wors en slaai vir die vrouens. Man, dis lekker om ‘n slag te ontspan. Ou Bakkies moes die braaiwerk doen, want ek het ‘n ligte gewrigsprobleempie na al die rugbyballe, posters, boobs en T-shirts wat ek moes teken na Saterdag se game. Ons Suid-Afrikaners is darem só passievol oor ons sport!  Bakkies sê reken as rugby van volgende jaar af nie meer aftrek kry nie, moet ons vleisbraai en -eet as sport verklaar – hy sal steeds die beste in sy posisie bly!

Ek sien in die koerante die blêddie Nataller loop en deel left, right en center waarskuwings uit oor hoe goed ons gaan wees in Frankryk. Stadig nou, ou dikkes! Die hele land het Sondagaand gesien hoe vervreet jy jouself aan die All Gold! Nou wil jy hier met ‘n ander man se kallers kom ploeg. Nou nie dat jou ge-banksittery ook nog vreeslik bydra tot jou fikse physique nie, né?!

Verdere nuus is dat ons almal ‘n paar dae af het, daarna begin die “Groot Vreet”, en dan saal ons die vliegtuig op vir die trippie om die Wêreldbeker te loop haal. Ou Bakkies se oë glinster sommer as jy begin praat oor die Groot Vreet! Vir die van julle wat nie weet nie: elke borg en sy maat, elke tannie wat sokkies was en en truie stryk, elke ryk oom en skatryk politikus, almal – wil mos vir ons koebaai sê en sterkte toewens. Wat seker ‘n goeie ding is, maar dit gaan gepaard met tafels wat kreun onder die fynste kos. En nie net sommer basaar pies en frikkadelle nie – o nee! Die beste wat jy kan kry!

Die Groot Vreet maak my bietjie bekommerd, maar uit ondervinding weet ek die average rugbyspeler se konstitusie kan nie al die grênd cuisine hanteer nie, so ek verwag ‘n redelike strontspul as daai vliegtuigie eers in die lug is. Gelukkig is ou Bakkies ‘n plumber, so hy sal enige verstoppings aanboord kan uitsorteer. As die outjies bietjie bleek lyk wanneer ons van die vliegtuig afklim daar in Frankryk – hulle is nie bang nie, hulle is moedeloos geskyt!

Nou ja – die volgende paar dae sal ek spandeer aan die opvang van agterstallige takies hier by die huis. Ek kan seker ook maar probeer voor kom met ‘n paar, synde ek so lank gaan weg wees…

Tot later dan – groete!

VICTORIOUS VIC

PS: Die bloggerol kom – WordPress was net gister bietjie olik…

PPS: 4Prometheus, wat betref jou voorspelling van die Skotland-game: ..!.. Hahaha!

PPPS: Wat beteken “erudiete”? Is dit soos Israeliete en Amalakiete?

PPPPS: JOHAN SWARTS!

Nog ‘n PS: Ek worstel nog met die borge, maar ek belowe hier sal pryse wees! Vertel solank julle maatjies. Hoe lyk dit Wimpie? Jy praat mos daagliks met die nasie – bewe daar ‘n borg uit! Ek moes nou eers vir Bakkies verduidelik die Oos-Rand en die Oos-Kaap is twee verskillende dorpe. Hy roep die mense van die Oos-Kaap “viskopvreters”. Sê dis hoekom die wind so baie waai daar – hulle generate dit self! Plumbers het nogal ‘n neus vir ‘n verdagte reukie…

Laaste PS: Sies, Platkop en Boegie het elkeen drie keer gestem! Die sewende stem ruik vir my na 4Prometheus se konkelwerk… Die blog bly!